GERATEC

– VLV Paarl 15/06/2022
We dont talk about trees getting older, we say theyre “growing”. Let’s use the
same term about ourselves. Were not getting older, were just “growing”. That`s
the spirit of living.
Met die versoek om oor die impak van die verouderingsproses met u te kom
gesels, het ek onmiddellik gedink aan die talle boeke van ouer skrywers oor
hierdie onderwerp. Hul vertel onomwonde hoe elkeen van hulle ouderdom
ervaar. Ek deel graag met u ’n paar van die skrywers se menings.

  1. Juffrou Sophia Vlug Vorentoe – Berta Smit (1993)
    Juffrou Sophia sê vir haarself: dit is my stoel. Dit is my tafel. My bed. Want na vier maande in die hospitaal is dit of sy van alles om haar vervreem het.
    Ook van haarself. Haar lewe word ‘n ontdekkingstog, of soek na haar wêreld en haar eie
    identiteit.
  2. Die dag toe ek my naam vergeet het – FA Venter (1995)
    FA Venter se Die keer toe ek my naam vergeet het is ’n uitstekende outobiografiese vertelling oor sy ervarings ná hy ’n beroerte beleef het. Eers sy verblyf in ’n hospitaal en toe veral in die aftree sentrum Altena in die Strand.

    Só begin die boek:

    “Die dood het een môre suutjies by my kombuis in Seemeeu 1104 in die Strand ingekom. Baie suutjies. Juis toe ek besig was om die ontbyt goedjies op te was. Ek het hom nie gehoor óf gesien óf verwag nie. Ek het so goed gevoel. So vol energie. Sou nog die middag gaan rolbal speel. Ek het dié oggend waarlik kans gesien vir die lewe. Omdat my vrou swaar deur emfiseem en ’n hartkwaal aangetas is, sorg ek elke oggend vir ontbyt en was daarna die skottelgoed.

    Ek droë nog so af, toe val die vadoek uit my regterhand. Ek buk en tel dit op. Ek vermoed niks. Dis so ’n pragtige someroggend – helder, windloos.”


    Ná dit weer en weer gebeur het, wéét hy daar is iets verkeerd: Dit is ’n groot ding dié. Dis nie vir sommerso nie. Die vadoek val teen my sin en wil uit my hand – sonder dat ek enige pyn voel.
    En skielik tref dit my: Ek staan van aangesig tot aangesig met die dood. Maar is die dood dan so pynloos? So genadig?”

    Venter sê ”Ek het baie verloor – die kosbaarste. Maar ek het nog geleer om te verduur. Te aanvaar. Tevrede te wees. Anders sou dit ondraaglik wees”.
  3. Die afdraand van die dag is kil – Alba Bouwer (1992)
    Die titel van die roman ontleen is aan Olga Kirsch se digbundel Negentien gedigte (1972):

    Hoe het dit skielik laat geword?
    Die oggend was so lank en stil,
    die middag ruim en warm en geel.
    Die afdraand van die dag is kil.
    Hoe het dit skielik laat geword?


    Die ouderdom kom met baie mankemente. Dit ervaar die susters Marie en Bettie in pynlike maar ook snaakse besonderhede wanneer hulle in Huis Lourens gaan woon en die inwoners van die oord leer ken. Karakters soos tant Dolly, wat op 98 ‘n bloedrooi rok dra en van die more tot die aand danswysies van haar jongdae in haar kop hoor en, tartend, ‘n ouvrou stemmetjie wat saamsing. Of die vername mevrou Nelson, wat nagrokke van satyn en regte bruids-onderklere dra, maar te seniel is om te weet wat sy aanhet.

    Oues wat hul ydelheid deur hul kinders se prestasies wil uitleef, maar ook die beminlikes wie se stil, ryp menslikheid soos herfskleure gloei. Dié wat “weggegooi” is deur hul kinders, en die wat eenmaal self moes weggee …
  4. Spertyd – Elsa Joubert (2017)
    Verlies staan geskrywe oor die lewe van oumense, verlies in verskillende vorme:
    “Eintlik kan Verlies die naam van al sulke oumens geboue wees. Elkeen kom hierheen omrede verlies. Óf sy lewensmaat, óf sy gesondheid. Of ’n lam been of ’n beskadigde kop, ’n kop wat soos ’n gieter met lekplekke is” (154).

    Besonder frustrerend is die verlies van woorde en van gedagtes. Dit gaan gepaard met ’n nuwe perspektief wat ontwikkel moet word, die besef “jy staan nie meer in die hoofstroom nie. Jy het jou kans gehad. Dis verby” (65). Sy het ’n randfiguur geword.

    Tog vind daar ’n geleidelike ontwikkeling in haar plaas, ’n wegkeer van die verlede en ’n aanvaarding van die hede en die toekoms. Die ontwikkeling word onder andere deur die eerste paar hoofstuktitels gesuggereer.

    Die titel van die eerste hoofstuk is “Doodloopstrate”, en dit eindig soos volg:

    “Ek sê vir my dogter: My lewe is nou ’n doodloopstraat. My dogter sê vir my: Ma, mens bly nooit in ’n doodloopstraat nie. Jy draai om, ry terug en kry ’n nuwe koers. Dit klink baie dapper, maar ek is nie meer dapper nie.” (45)

    Te midde van alles wat verbygaan, wat is van standhoudende waarde? Verskeie dinge: haar kreatiewe vermoë; haar humorsin; haar vriende en ander medemenslike verbintenisse; haar familie; haar geloof.
  5. Slot van die dag – Gedagtes – Karel Schoeman (2017)
    Dit is ‘n baie persoonlike boek oor ouderdom, die skryfproses en selfbeskikking met kommentaar op oud word en wees, met inbegrip van praktiese wenke, en heelwat inligting oor die moontlike en waarskynlike einde van die lewe. Die element van afskeid en gelatenheid is deurlopend. Die ouderdom is teenswoordig die vernaamste onderwerp van sy oorpeinsing, en die vernaamste element in sy daagliks ervarings.

    (https://www.netwerk24.com/Netwerk24/eksklusief-so-het-karel-schoemangesterf-20180222)

    DIE PROSES VAN OUER WORD
    In die voorafgaande vertellings deur skrywers oor hul persoonlike ervarings van ouderdom en die uitdagings daaraan verbonde, het ek die gevolgtrekking gemaak dat “ouderdom” slegs vir deurwinterde mense met n fyn lewens balans,n oop kop met nugtere denke, en n onuitputbare humorsin oorleefbaar is!

    Die gemeenskaplikheid van die ervaring van geweldige verliese is seker die mees algemene kenmerk van die ouer word proses. Aanvanklik die verlies van status en inkomste by aftrede, later die verlies van gesondheid, mobiliteit wat lei tot die verlies aan jou jarelange woonplek, diere, nog later die verlies van bekendes en familie wat kan lei tot eensaamheid. Liggaamlike verliese in terme van gesondheidsprobleme lei tot verswakking, verlies aan mobiliteit, aftakeling van die menslike liggaam. Die somtotaal van die voorafgaande lei tot groter afhanklikheid van hulp – hulp van hulpmiddels, mense, toerusting soos gehoorapparate, loop-apparate en nog meer. Aanvanklike onafhanklik bly en selfversorging, word opgevolg deur tuisversorging deur kundiges, later opname in n versorgingsfasiliteit of tehuis vir ouer persone, met die opname in `n 24 uur per dag versorgingsentrum as laaste heenkome. Hierdie vooruitskouing van die verouderingsproses en die implikasies daarvan, kan baie donker vir die gemoed wees, en is die persoonlikheid en gesindheid/houding van die individu van kardinale belang.

    Hoe mense oor ouderdom dink, gaan bepaal watter effek dit op hulself, die mense om hulle, en toekoms gaan hê. Om bekommerd, angstig en depressief te voel, is menslik en ʼn natuurlike reaksie op onsekerhede of verlies-ervarings. Krisisse en moeilike tye verander mense, hul verhoudinge en toekoms óf ten goede óf ten kwade. Dis belangrik om ouderdom as ʼn geleentheid om die beste
    in jou na vore te bring, om weer vanselfsprekende dinge te waardeer en om sekere dinge beter te kan doen.

    Die geskiedenis het ons geleer dat na elke geweldige krisis vir die mens of natuur daar ʼn nuwe tyd van opbou, herstel en dikwels versnelde of anderse groei voorlê. Die mooi en karaktervolle bome het dikwels swaar gekry, in hul moeisame verskrompelde kronkels en boë, lê hul sterkte én prag.

    Ons beleef ouderdom op ʼn manier as ʼn woestyn-ervaring, ʼn gestrooptheid van die bekende manier van doen, dink en wees. Dit kan vir ons juis ʼn tyd van visie, heling en stilte word … ʼn tyd waarin jy tot inkeer in jouself kan kom. ʼn Tyd om te begin om in ʼn ander rat te lewe – stadiger, rustiger. Dit is ons geleentheid vir meer tyd vir mekaar, vir dink, wonder, besin, lees … om dié dinge te doen, waarby ons nét nóóit uitkom nie. Dit kan ook ʼn kreatiewe tyd van ontdek wees: jou eie innerlike sterkte, aanpassingsvermoë en kreatiwiteit om nuwe dinge te skep of te leer.

    OUDERDOM VERG ’N NUWE MANIER VAN WEES, VAN LEEF EN DINK.
    Neem verantwoordelikheid, vir jou fisieke, finansiële maar veral ook emosionele en spirituele welstand. Wanneer jy voel dat jy nie meer jou eie finansies kan hanteer nie, vra die hulp van jou kinders of finansiële kenners.
  6. Dink verder as die nou en jou eie belang. Dink in terme van onmiddellike behoeftes en noodsaaklikhede, maar ook aan die toekoms en volhoubaarheiddaarvan vir jouself.
  7. Groei of gaan onder. Wees pro-aktief en doen nou dinge om jou lewe beter te maak.
  8. Fokus op wat nou binne jou beheer is – wat jy nóú kan doen.
  9. Hou kontak met jou mense en gebruik die tyd om verhoudinge met hulle te versterk en te bou via elektroniese en telekommunikasie media tot jou beskikking.
  10. Maak seker dat jy ʼn positiewe ingesteldheid het – dit maak die verskil wat jou anders laat dink, optree en die mense om jou positief maak en hou.

    OM GELUKKIG IN JOUSELF AS MENS TE WEES, IS BELANGRIK.
  11. Vermy die depressiewe leefstyl dinge, soos om ure net niks konstruktief te doen nie
  12. jou van mense te onttrek en net in jou kamer te bly, of niks van jou te laat hoor nie.
  13. toelaat dat jou dae en gemoed deur die negatiewe inligting in die media beïnvloed word, of net daaroor te praat en te dink.
  14. jou persoonlike versorging afskeep nie.

    OM EMOSIONEEL EN FISIES GESOND TE BLY MOET GEWONE GOEIE POSITIEWE
    ROETINES IN STAND GEHOU WORD.
  15. Slaap: Maak seker jy slaap goed en genoeg
  16. Eet: Eet gesond en genoeg.
  17. Oefen: Wees kreatief en bedink nuwe en ander maniere te oefen – klim trappies, of gaan stap saam met `n vriend/vriendin waar dit veilig is.
  18. Wees netjies op jouself en jou omgewing. Versorg jou keurig – dit laat ’n mens goed voel.
  19. Doen lekker dinge waarvan jy hou. Wees goed vir jouself!
  20. Sorg vir die verhoudinge in jou lewe – belê in vriendskappe. Doen lekker dinge saam met vriende of kennisse, speel speletjies, speel kaart, bou legkaarte, hou vasvrae … maar doen dinge sáám. Maak ʼn afspraak met vriende
  • trek jou mooi aan en kuier, drink saam koffie of ʼn glas wyn, nooi hulle na jou
    woonstel of kamer oor. Maak afsprake met mekaar en fliek voor die TV saam
    met springmielies, luister saam musiek, of sit net en gesels. Sáám doen dinge
    keer die gevoel van alleenheid. So hou jy jouself emosioneel gesond.
  1. Kommunikeer via die internet of telefoon met jou vriende en familie elders: eposse, telefoonoproepe, gesprekke op whatsApp, skryf briewe. Wees dankbaar vir wat jy steeds in jou omstandighede het. Skryf dit daagliks neer, en sê dit vir of ander: Ek is dankbaar vir die ruimte en gemak van my woonstel/kamer, water, elektrisiteit, my uitsig, vir mense wat vir my omgee, my toegang tot mediese sorg indien ek siek sou word, vir kos, vir die natuur, die seisoene daar buite.
  2. Maak ʼn lys van dinge wat jy wil, en kan doen. En merk af wat jy al gedoen het. Dit gee mens ʼn gevoel van genoegdoening dat jy iets bereik en vermag.
  3. Gebruik jou sin vir humor – n lag op sy tyd is helend. 7 10.Maak met kreatiwiteit jou omgewing interessant en anders. Skuif jou kamer, dinge teen jou mure, steekn paar vars blomme in, bad/stort by kerslig. Pak jou kaste reg sodat dit meer verbruikersvriendelik is. Gee weg wat jy nie
    gebruik nie.
    11.Dis ʼn goeie tyd vir kreatiwiteit: Skryf jou lewensverhaal, doen naaldwerk, brei, leer teken of skilder.
    12.Leef bewustelik in die oomblik – raak bewus van die dinge om jou, sien die klein dingetjies in jou omgewing raak en waardeer dit! Baie dankie dat u my genooi het om om my gedagtes met u te kom deel. Ek sluit af met een van my gunsteling gedigte

    Aan die verhuisingsmanne – Ernst van Heerden
    Dra saggies, vriende,
    Want sierpotte en erdewerk,
    Keurborde en fyn glas
    Sluit ’n hele lewe
    Met sy drome
    En verlangens in;

    Dra saggies, mededraers,
    Want die drag,
    Van veerbed,
    Tafels, lessenaar,
    Druk teen die bors

    Se dun skelet;

    Dra saggies, regters
    Want die oordeel
    Oor my klein bedryf
    Lê vasgevang
    In prente, boeke
    En ’n eie ou gemakstoel;

    Dra saggies, Gode,
    Want die hart se porselein
    Is broos en te veel seer
    En kwesbaarheid geneig:
    Die kratte van ’n lewe
    Kan so maklik breek

    Lydia Corbett
    Maatskaplike werker/Social worker
    SACSSP reg no 10-12294
    tel: +27(0)82 7764841
    epos/email: corbettlydia1@gmail.com
We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our Privacy Policy
X