Om mee te begin is dit belangrik om te weet dat Alzheimer se siekte ’n soort demensie is en dat dit nie iets anders as demensie is nie.

Dr. Rayne Stroebel wat ’n PhD in demensiestudies het, en ook besturende direkteur van GERATEC is, sê indien jy een persoon met demensie ontmoet het, het jy slegs een persoon met demensie ontmoet, want elke mens se ervaring van en leef met demensie is uniek.

Waarom kort mense met Alzheimers se siekte gewoonlik ekstra hulp?
Soos die siektetoestand vorder, kort mense meer hulp met die uitvoer van gewone dagtake.
Daaglikse aktiwiteite soos om kos te maak, huis skoon te maak, self motor te bestuur, wasgoed te was en finansies self te hanteer raak meer uitdagend. Hierdie take is dikwels die eerstes wat beïnvloed word en waar daar onraad gemerk word. Later word normale daaglikse aktiwiteite soos om self te kan bad of stort, aan te trek, die toilet te gebruik, self te kan eet en om self te kan stap, op te staan uit ’n stoel of bed, en rond te beweeg beïnvloed. Daaglikse aktiwiteite word vanaf die breinstam beheer, en kan in leke terme beskou word as diepgewortel in die brein.

Waarom is dit belangrik dat mense met Alzheimer se siekte die nodige hulp ontvang?
Dit is uiters belangrik dat mense wat met demensie leef, ondersteun word en dat hul hele omgewing ook ondersteunend is sodat hulle so lank as moontlik onafhanklik kan bly. Nie net verlig dit die druk op die versorger nie, maar dit is van kardinale belang vir die menswaardigheid van die individu en vir die verhouding tussen die versorger en die persoon met demensie.

Dit is dikwels omgewingsfaktore wat die persoon daarvan weerhou om onafhanklik in hierdie aktiwiteite te wees: as die persoon in ’n vreemde omgewing is en nie weet waar die toilet is nie, sal hulle dalk ’n glips hê. Dit is nie ’n normale verloop van sake in die siekte nie, maar bloot ’n omgewingsfaktor wat veroorsaak dat die persoon nie die toilet betyds bereik en gebruik het nie. Persone wat leef met demensie sal self kan eet as daar dalk ekstra hulpmiddels is soos ’n mes of ’n vurk met ’n hef wat makliker vasgehou kan word, as kos kleurvol is sodat hulle dit kan sien, en as dit ekstra geurig en smaakvol is. Sekere medikasie kan proevermoë aantas of speekselvorming belemmer, wat ’n maaltyd moeilik of onsmaaklik kan maak.

Hoe kan iemand sonder ’n mediese kwalifikasie help?
Die meeste mense met demensie het ondersteuning nodig. Terwyl sekere mediese insette onvermydelik is, is dit die dag-totdag-ondersteuning wat die persoon onafhanklik, waardig en gelukkig sal hou. Enige iemand kan hierdie ondersteuning bied, met die nodige opleiding en kennis. Dit is veral belangrik om die persoon wat met demensie leef nie te óórversorg nie, daarom moet versorgers of helpers bemagtig word om die persoon met demensie optimaal te ondersteun. Persone wat leef met demensie is nog steeds mense. Hulle verloor nie hul menswees nie. Terwyl dit moeilik vir hulle mag wees om verbaal of koherent te kommunikeer, is hulle ten alle tye bewus van wat aangaan. Dit is soms erg traumaties vir hulle om in hierdie toestand vasgekeer te wees, want dit beteken nie dat hulle nie bewus is van die toestand nie. Die emosionele ervaringswêreld van die persoon wat met demensie leef, is inteendeel uiters gefokus en sensitief. Mense “ly” nie aan demensie nie, hulle “ly” dikwels as gevolg van hoe hulle deur ander mense hanteer word.

Die artikel kom uit Die Burger (Media24) se Bylaag: Gesondheid van 23 September 2022.